Bydrae vir die uitgawe van SUIDERNUUS, 28 Nov. 2014
AGRI MEGA GROEP WYS SUKSESSE UIT
KAAP AGULHAS SAKEKAMER SLUIT VERRIGTINGE VIR 2014 AF
''Wanneer jy glo in iets, dan wórd jy dit'', sê mnr. Orton King, ondervoorsitter van die Kaap Agulhas Sakekamer (KAS). Die Sakekamer het sy laaste ledebyeenkoms vir vanjaar Dinsdagaand, 18 November in die BKB Gebou, Bredasdorp, gehou. In die afwesigheid van mnr. Rudy Visser (voorsitter) het mnr. King namens die Agri Mega Groep wat die aand geborg het, die verrigtinge gelei.
Mnr. King het genoem dat mnr. Visser uit Duitsland, waar hy tans besoek aflê, laat weet het dat Europa (en so ook Japan) al weer op 'n resessie afstuur: ekonomiese groei bly laag en werkloosheid skiet die hoogte in. Gesien teen hierdie agtergrond gaan dit relatief goed in Afrika (alhoewel SA laer syfers as die res van die kontinent toon, wat 'n bekommernis inhou) en moet ons met 'n positiewe ingesteldheid die toekoms tegemoetgaan.
Die Agri Mega Groep (wat uit verskeie maatskappye bestaan) het, by wyse van spreke, sy eerste treë 'n aantal jare gelede tydens 'n boeredag in die Bredasdorpse distrik gegee. Aanvanklik was die hoofidee om op 'n vrywillige basis boeredae en skougeleenthede te bedryf. Nie lank nie, of vele moontlikhede is raakgesien, ook die moontlikheid om die idee agter die landbou-ekspo momentum te gee en daarop voort te bou. Uit hierdie gedagtes is dít wat vandag die Agri Mega Groep is, ontwikkel. Die ekspo het in so 'n mate gegroei dat daar by vanjaar se Mega Week in September meer as 500 uitstallers was en meer as 25 000 besoekers kom gesig wys het; meer as 60 lande was verteenwoordig.
Uit die ekspo-idee ontwikkel heel gou ander geleenthede, soos om banke en tegniese maatskappye by die landbou-/boerdery-idee betrokke te kry. Mettertyd het daar dan ook 'n behoefte aan ''events'' ontstaan, soveel so dat daar vandag 'n baie bedrywige Mega Events Maatskappy vele sg. ''events'', veral in die landbou, bedryf. Een so 'n voorbeelde sluit die jaarlikse wynoes by Groot Constantia in. Daar gaan, volgens mnr. King, gepoog word om binnekort ten minste 10 ''events'' per jaar by Agri Mega Park, die Bredasdorpse hoofkantoor van die Agri Mega Groep, aan te bied.
Agri Mega Investments is vandag 'n groot bedryf met o.a. 'n ekspo-, toerisme-, media- en bemarkingsbeen, asook 'n finansiëledienstebeen (lg. betrokke by landboufinansiering). Daar is ook met 'n IT-been in die landbousektor begin; hierdie afdeling se bedrywighede word vanuit Canal Walk, Kaapstad, bedryf. Die groep beplan om ook sy Afrika-been te ontwikkel (mnr. King het vanjaar in dié verband byvoorbeeld Zambië besoek) en om die Mega Week meer en meer as internasionale bestemming te bemark.
Die Mega Sport Classic, 'n verdere inisiatief van die Groep, het vanjaar in samewerking met die Voet van Afrika 60 skole aan die top-tien sportgeleenthede laat deelneem en beplan om aanstaande jaar nóg meer deelnemers te lok.
Die idee is meer voete vir die Bredasdorp-omgewing, meer geld vir die dorp en sy mense, asook die skep van werksgeleenthede. As sodanig wil die Groep, aldus mnr. King, ook in toenemende mate die Sakekamer se belange help uitbrei.
Marinus Stolz van Education Connection, 'n nie-winsgewende maatskappy betrokke by skole, het vervolgens met die lede van die Sakekamer gepraat en vertoë gerig om betrokke te raak by sy organisasie se soeke na jeugleiers (soos sy organisasie sê: ''Connecting People – Releasing Potential'') wat in die toekoms sal help om ''waarde tot lewens toe te voeg''. Sy organisasie plaas jeugwerkers in skole om die potensiaal onder die jeug te ontsluit sodat ''job marketable leaders'' ontwikkel kan word. Hy hoop die Sakekamer sal in die toekoms meer betrek kan word om sodanige hulp en geleenthede aan potensiële leiers te help bied.
Zoon Jacobs, nuwe voorsitter: Kaap Agulhas Toerisme, voel baie positief, ten spyte van uitdagings (soos die nasionale regering se ''onbetrokkenheid'' by ons omgewing se aktiwiteite, onvoldoende investering, uitdagings met vislisensies en so meer), oor geleenthede vir toerisme in die area en wat dit vir die omgewing kan inhou. Mnr. Jacobs noem dat ons groter moet begin dink (''Think Global'') as ons omgewing en nie moet agter raak by bv. Hermanus, net om die draai, nie. Ons moet die geleenthede in óns area ontsluit, soos om bv. aanstaande jaar die Geelstertfees te laat herleef, die tegnologiese geleenthede wat Explorio bied te omarm, die Sakekamer betrokke te kry by aanstaande jaar se vieringe van Waenhuiskrans se 200-jarige bestaan e.d.m. Hy noem ook die ontwikkeling van die ou tronk in 'n bruikbare entiteit wat die gemeenskap sal dien, die verfraaiing van Bredasdorp – alles om voete te lok en geld na die omgewing te bring. Almal moet ambassadeurs vir die Sakekamer word en die groter saak dien.
Voordat die Sakekamer se byeenkoms afgesluit is, het mnr. King, as voorsitter van die Wes-Kaapse AHI (Afrikaanse Handelsinstituut) en ondervoorsitter landswyd, die lede ingelig dat, ten spyte van uitdagings, die AHI steeds waar moontlik 'n leidende ekonomiese rol wil speel en sy stempel wil bly afdruk op plaaslike regeringsaktiwiteite en entrepreneurs van raad wil bedien. In hierdie verband sluit sodanige aktiwiteite goed aan by die doelstellings en werksaamhede van die Sakekamer.